Vervoerspesialiste, Oranjerivier Tenkers, kom elke dag nader aan hul visie om ’n wêreldgehalte grootmaat-vervoerspesialis te wees en die moontlikheid van uitbreiding wink in die toekoms. 

Met meer as 30 jaar spesialis-ondervinding in die vervoer van grootmaatwyn en verwante produkte en sy hoofkantoor in Upington, staan Oranjerivier Tenkers weens hul hoë standaarde en kwaliteit diens, kop bo skouers uit bo ander soortgelyke organisasies.

“Wat ons van ander maatskappye in hierdie bedryf onderskei, is ons visie. Ons streef werklik elke dag daarna om ’n wêreldklas grootmaattenker-vervoerspesialis te wees,” verduidelik Arno Kock, finansiële direkteur en mede-HUB.

“Vars idees en uitmuntende diens is ons suksesresep. Hiermee poog ons om die onderneming uit te bou en kliënte se verwagtinge te oortref deur die handhawing van bogemiddelde diensvlakke. Apple het nie verniet deur innovasie ’n markleier in die wêreld van tegnologie geword nie. Net so wil ons die markleier in hierdie marksegment wees.”

’n Blik op gister
Oranjerivier Tenkers het aanvanklik as familiebesigheid in 1981 ontstaan met WHC Barnard as stigter. Geleë in ’n area wat tradisioneel bekend was vir die produksie van rosyntjies, het die groei in die wynbedryf ’n geleentheid in die maatskappy se logistieke afdeling geskep met die al groter wordende vraag na die vervoer van grootmaatwyn na kliënte in die groter sentra.

Die maatskappy het van tien voltydse werknemers en ses vragmotors in 1981 tot 50 werknemers en ’n vloot van 26 trokke en vragmotors in 2005 gegroei, toe Oranjerivier Wynkelders die maatskappy oorgeneem het. Sedert 2005 het Oranjerivier Tenkers met ’n jong, dinamiese bestuurspan voortdurend uitgebrei en vandag is meer as 100 werknemers hier werksaam.

Differensieer jouself
Hoë standaarde en kwaliteit differensieer Oranjerivier Tenkers van ander soortgelyke maatskappye en bevestig dié maatskappy se toewyding tot ’n ongeëwenaarde padveiligheid-rekord. Suksesse sluit in die ISO 9001-kwaliteitsbeheerstelsel-akkreditasie deur SABS (in 2011), ’n nuwe depot met wasruimte in Black Heath in die Wes-Kaap wat in 2012 sy deure geopen het, die toevoeging van ADR-gesertifiseerde tenkers vir die vervoer van gevaarhoudende stowwe tot die vloot in 2013 en die HACCAP (Hazard Analysis and Critical Control Point System) -akkreditasie deur die SABS.

Vroeër vanjaar word Oranjerivier Tenkers ook die heel eerste Suid-Afrikaanse vervoermaatskappy om die nuwe IVECO Stralis HI-WAY EEV (Enhanced Environmentally Friendly Vehicle) –vragmotors by die maatskappy se vloot te inkorporeer. Nog onlangse prestasies sluit in die SABS ISO 22000-akkreditasie, ’n internasionale akkreditasie wat voedselveiligheidsbestuur aanspreek.

“Die veiligheid van ons personeel en algemene padveiligheid is ons prioriteit en daarom ook deel van ons missie, verduidelik Arno. “Die beweging na Euro 6-tegnologie is deel van ons maatskappy se sosiale verantwoordelikheid ten einde ons koolstofvoetspoor verder te verminder.”

Veiligheid op die pad
Oranjerivier Tenkers se vloot is werksaam op ’n toegewyde kontrakbasis. Tenkers word volgens spesifikasie gebou met aparte kompartemente en pasgemaak volgens spesifieke behoeftes van die kliënt.

Die maatskappy meet homself aan Europese standaarde en het daarom ADR-gesertifiseerde tenkers (ADR verwys na die Europese instemming mbt die internasionale vervoer van gevaarlike goedere) vir die vervoer van gevaarhoudende goedere toegevoeg tot die vloot.

Alle vragmotors word met werklike tyd satelliet-opsporingstegnologie en kameras in die kajuit ingerig en selfoonkommunikasie word ten alle tye met vragmotors gehandhaaf. Die maatskappy het ook belê in Telematics, wat vlootbestuurders in staat stel om vragmotorbestuurders se bestuursvermoë en -gedrag te monitor wat die risiko op die pad verminder en die produktiwiteit en gebruik van die vragmotors optimaliseer.

Die pad vorentoe
“Ons kyk na die moontlikheid van ’n nuwe kantoor en depot in die Gauteng-omgewing,” gesels Arno. Met ’n netwerk in al die groot sentra sal ons reaksietyd en ons kliëntediens selfs beter wees.

Ons almal streef na die beste praktyke en dit maak sin om na die Noorde uit te brei. “Ons is ook besig met die ontwikkeling van ’n nuwe afdeling binne die onderneming om ons voetspoor in die vervoer van gevaarhoudende stowwe, verder uit te bou.”

Vir die toekoms is OranjerivierTenkers hard aan die werk om die maatskappy se voetspoor uit te brei. 

WynLand voorblad promosie.


more on winelands.co.za