Gasvrye lafenis by La Motte

Vreedsaam
Op pad Franschhoek toe vanoggend het my gedagtes aanhoudend gemaal oor my “to do” list. E-posse om te stuur, vergaderings om te reël, verslae om te skryf. Soos dit klaarblyklik die moderne mens betaam, kon ek my kop nie sover bring om rustig te raak nie, al was ek op pad na ‘n bederfie; ‘n paar uur uit my dag om rustig te raak en iets spesiaals te geniet. Nie lank nadat ek my plek by die restaurant – op die ‘glaskas’ stoep wat uitkyk op ‘n bewolkte, koel Franschhoek dag – ingeneem het nie, het die gedruis in my gedagtes begin verdwyn.

Ek is altyd op soek na ‘n storie. Dit is altyd lekker om iets te skryf oor ‘n aangename ervaring; ‘n ete of ‘n wyn, ‘n uitstappie of ‘n gebeurtenis. Maar dit is altyd beter wanneer daar ‘n storie is. Almal het vandag iets om te sê, maar nie almal het ‘n storie om te vertel nie. Hierdie verskynsel loop natuurlik oor in die wynbedryf. Almal het ‘n brand. Almal het iets om te verkoop (dit is immers baie se brood en botter). Maar wie vertel regtig nog ‘n storie?
‘n Teetjie of twee
Min het ek verwag dat ek by La Motte se Winelands tee ‘n storie sou kry. Tee? Beslis. MCC? Ja, hoekom nie? Watertand lekkernye? Verseker. Maar ‘n storie? Die storie agter die tee ervaring is die eg gasvryheid van die Kapenaars van ouds: altyd ‘n blink, blikpot koffie op die stoof of ‘n teetjie reg om te trek. ‘n Warm verwelkoming vir vriende, familie en vreemdelinge wat oor die kombuisdrumpel trap.
Die tee spyskaart word aangebied saam met ‘n skatkissie vol feite oor die gebruike rondom tradisionele tee en gasvryheid. Van die gebruiklike bediening van konfituur – gepreserveerde konfyt gemaak van heel of groot vrugte stukke – tot Boerejongens en Boeremeisies (appelkose of rosyntjies ingelê in brandewyn). Daar is ook notas oor die verskeie teesoorte: wit, swart, rooi en rypgemaak. En natuurlik, ‘n bietjie meer oor die ‘soet sopie’ wat gebruiklik aan gaste gebied is tydens middagete, namiddag kuiers en aandete.
Die tee ervaring bestaan uit ‘n bordjie met fynproewer lekkernye: ‘n gerookte forel pannekoek bedryf met gebraaide kappertjies en roomkaas, biltong soes (dis die properse Afrikaans vir ‘choux pastry’), ‘n sjokolade truffle, ‘n amandelkoekie (en dis die mooi woord vir ‘n macaron) en jou keuse van wat op die koek spyskaart vir die dag is. My knieë het lam geword vir die rooi fluweel koek.
Smaaklik!
Die liplek-lekkernye word bedien met of jou keuse van tee (‘n formidabele boks met minstens agt verskeie geure word vir jou gebring om te beloer), koffie of die moderne ekwivalent van ‘n gasvrye drankie: Méthode Cap Classique. Die soet sopie keuses sluit in Amarula, Van der Hum likeur, peperment likeur of La Motte se Straw Wine. Ek het beide die MCC en Straw wines gekies. Die MCC is verfrissend, appelgeure en geroosterde amandels met ‘n prikkelende suur en fyn mousse. Die Straw wine het intense gedroogde sultana geure met n treffende soetsmaak sonder om aan jou keel te kleef en ‘n skimp na geblikte perskes.
Tussen die aanhoudende gejaag van afspraak na afspraak, taak na taak en doel na doel vergeet ons om stil te staan en die wêreld bietjie in te asem. Ons ontneem onsself die kans om af te skakel en die gasvryheid van ander te geniet. Pierneef á La Motte se Winelands tee is ‘n intieme bederfie. Geniet dit saam met vriende of familie, of knyp ‘n uur of twee vir jouself af daarvoor. Ontspan. Haal asem. Bederf jouself.
 
 
Tee om van te kies en keur
Die La Motte Winelands tee is Dinsdae tot Sondae beskikbaar vanaf 09:00 – 17:00 teen R145 per persoon. Besprekings is noodsaaklik. Kontak [email protected] vir meer inligting.

The post Gasvrye lafenis by La Motte appeared first on Incogvino.


more on incogvino.co.za