Ons sal kan doen met ʼn miljoen (bottels)

Rupert & Rothschild se Classique-versnit het die miljoenbottel-mylpaal verbygesteek en is ’n suksesverhaal van kwaliteit én kwantiteit. 

Dis een ding om ’n paar vate uitstekende wyn te maak en te verkoop. Dis ’n groter uitdaging om sterk handelsmerke tot stand te bring wat gehalte handhaaf en ook groot hoeveelhede wyn lewer. Suid-Afrika het meer sulke handelsmerke dringend nodig wat nie net ’n paar duisend gebottelde vlagdraers die mark instuur nie, maar meer as ’n miljoen.

Rupert & Rothschild het ’n geruime tydjie al die miljoen-bottel-kerf verbygesteek met die Classique – ’n rooi versnit wat teen R138 by die proelokaal verkoop word. Anders as heelwat ander wyne in hierdie prysklas het dié spogwyn se verkope nie ’n plafon bereik nie. Inteendeel, volgens alle aanduidings gaan die handelsmerk nóg meer groei.

Beginsels

Wat maak Rupert & Rothschild anders? Die kelder se hoofbestuurder, Schalk Joubert, huiwer nie met sy antwoord nie: “Dit gaan alles oor die handelsmerk. Mense kom en gaan, maar Rupert & Rothschild sal bly staan.” Joubert voel so sterk hieroor, dat hy selfs versoek het dat nie hy of een van die wynmakers in hierdie artikel uitgesonder word nie.

Toe Rupert & Rothschild (R & R) in 1997 ontstaan het, is daar besluit hierdie kelder gaan hom toelê op klassieke wyne en dat daar nie van hierdie style afgewyk sal word om tendense na te jaag nie. Dit is ’n beginsel wat vandag nog meer as ooit tevore geld, met ’n beperkte wynreeks wat bestaan uit die Baroness Nadine Chardonnay en twee rooi versnitte: die vlagskip, Baron Edmond, en Classique.

Waar baie ander kelders juis wanneer hul sterkste produk momentum gekry het nie die versoeking kon weerstaan om nog ’n reserwewyn, spesiale bottelering of intreevlakhandelsmerk bekend te stel nie, is dit dié driemanskap (of is die Chardonnay ’n vrou?) wat R & R van krag tot krag laat gaan.

Die plaaslike mark het uit beginsel voorkeur gekry. Toe ’n groot deel van die wynbedryf hul koffers gepak het om dwarsoor die wêreld wyn te gaan verkoop, is kiste Classique wyd in die plaaslike mark versprei. Meridian, R & R se wynverspreider, het ’n groot rol in die aanvanklike sukses van Rupert & Rothschild gespeel, juis omdat hierdie besigheid gerat was vir die plaaslike mark.

Vandag nog word 60% van hul wyne aan die plaaslike mark verkoop, met groeiende markte soos China (en veral Hongkong), Viëtnam en Duitsland as van die belangrikste uitvoermarkte. Wanneer daar egter tekorte is, word aan die plaaslike mark voorkeur gegee.

’n Derde beginsel van hierdie besigheid, is dat die behoud van bestaande kliënte voorrang geniet bó uitbreiding in bestaande markte. Laasgenoemde geskied egter deurlopend en organies – volhoubaarder as met spekulasie in hoërisikomarkte. R & R skryf hul wyne ook glad nie vir kompetisies in nie – die wyn doen self die praatwerk.

Rupert & Rothschild sal nie almal tevrede kan stel nie, maar volgehoue groei wys dat dit nie noodwendig vir hierdie handelsmerk ’n probleem is nie.

Groei

Vir Rupert & Rothschild is daar ʼn beduidende verskil tussen wyn maak en wyn produseer. Wyn maak is as die wynmaker presies weet van watter wingerd die wyn in elke vat in die kelder kom. As wyn “geproduseer” word, moet die besigheid sy situasie begin heroorweeg.

Die plukdatum is veral in hierdie opsig ’n baie groot oorweging. Daar is nog nooit ’n wingerdblok geoes sonder dat Schalk of een van die wynmakers by was om die druiwe te proe nie. Die druiwe vir die Classique – grootliks Merlot en Cabernet Sauvignon – is afkomstig van Stellenbosch, Paarl en Darling.

Langtermynkontrakte is met produsente gesluit, wat verseker dat diegene wat druiwe aan R & R lewer ook eienaarskap neem van die produk en die bydrae wat hulle lewer.

Een van die redes waarom gehalte gehandhaaf word, selfs met hoër volumes, is juis dat handhawing van kwaliteit nie die doelwit is nie – verbeterde kwaliteit is wel.

Sal R & R uit ’n produksie-oogpunt nog verdere groei kan handhaaf, of selfs verdubbel? Die antwoord is ja, maar wingerde wat ouer word en nie volhoubaar vervang word nie, kan ’n probleem word – veral in Stellenbosch.

Dra die vlag

In vergelyking met die meeste ander wynproduserende lande, het Suid-Afrika nie naastenby genoeg gehaltehandelsmerke wat die sewesyfer-bottel-mylpaal verbygesteek het nie – veral nie in die buiteland nie. R & R maak nou al meer as 1.2 miljoen bottels Classique, maar is een van die uitsonderings.

Rupert & Rothschild beklemtoon dit ook dat meer groot handelsmerke die weg sal baan vir ander Suid-Afrikaanse wyne, eerder as om kompetisie te wees. Dit is immers baie belangriker om as bedryf markaandeel van ander wynproduserende lande te neem as wat elkeen sy eie eiland beskerm. En vlagdraers van meer as ʼn miljoen bottels is deel van hierdie oplossing.


more on wineland.co.za