Unieke wyne weerspieël unieke naam

Noem jy Hermanus en wyn in dieselfde asem, is dit ’n maklike gedagtesprong na Hermanuspietersfontein se uitmuntende wyne met sy kenmerkende rooi embleem, HPF 1855.Dit is ook nie sonder rede dat Hermanuspietersfontein ’n gunsteling van wynliefhebbers nie. ’n Mens hoef net te kyk na die string eerbewyse waarmee die 12 wyne in dié reeks kan spog.  Landbouweekblad het by die kelder op Hermanus en die wingerd naby Stanford in die Sondagskloof gaan kyk wat Hermanuspietersfontein só suksesvol maak.  Wanneer jy verby naamborde soos dié van die Hemel-en-Aarde- vallei ry, bevind jy jou in ’n streek waar dinge maklik – en met reg – in die oortreffende trap beskryf kan word.
Só is Hermanuspietersfontein die langste Afrikaanse keldernaam in die land. Dit is ook die enigste wynlandgoed met slegs Afrikaans op die etiket.  Maar hoe bly ’n kleinerige wynkelder soos Hermanuspietersfontein – die kelder produseer net 280 000 bottels wyn per jaar – winsgewend in ’n mededingende plaaslike en internasionale wynmark? “Ons glo eerder in handelsmerkontwikkeling as wynverkope as sodanig. Sedert die stigting van die Hermanuspietersfontein- wynkelder konsentreer ons daarop om elkeen van ons wyne as ’n lid van ’n groot Afrikaanse familie te posisioneer,” sê me. Anika de Goede, wat verantwoordelik is vir die kelder se kos-en-wynmark en bemarking.  “Wanneer oor bemarking gepraat word, hoor ’n mens gedurig dat ’n mens jou storie moet vertel. Die meeste wynname en stories is die werk van etiketontwerpers wat hul kliënte se wyne probeer onderskei van die derduisende ander wyne.
GESKIEDKUNDIGE FEITE
“Ons handelsmerk is egter op geskiedkundige feite en oorsprong gegrond en nie op ’n opgemaakte storie nie.” Die verhaal van die wynkelder se naam spruit uit die vroeë 1800’s toe boere in die Overbergomgewing hul kinders in Nederlands wou onderrig (in ’n tyd toe Afrikaans begin ontwikkel het). 
Die onderwyser Hermanus Pieters is meestal in skape betaal en die onnie word toe ook ’n skaapboer.  Die fontein waar sy vee daagliks gaan suip het, is later Hermanus Pieters se Fontein gedoop.  In 1855, talle jare ná sy dood, is die dorpie Hermanuspietersfontein na hom genoem. Die posmeester het in 1902 besluit die naam moet verkort word tot Hermanus omdat Hermanuspietersfontein te veel letters was vir sy posstempel.  Die dorp se oorspronklike naam en stigtingsjaar is bykans 150 jaar later laat herleef op die kelder se etikette, wat die rooi HPF 1855 embleem vertoon.  Só kry jy wyne soos Kleinboet, Skoonma, Posmeester en Swartskaap, wat elkeen sy eie storie het.
Die mense wat by Hermanuspietersfontein se wyne betrokke is, word ook gevier in name soos Die Bartho (wynmaker Bartho Eksteen), Die Arnoldus en Die Martha (die mede-eienaars en stigters, Johan en Mariëtte Pretorius, se doopname).  “Kleinboet is ons ‘junior’ Bordeaux-styl versnit, Skoonma is ons Rhône-styl versnit, Bloos – die skaam meisie met lang bene – is al Bordeaux-styl rosé-versnitwyn in Suid-Afrika wat uit vyf kultivars bestaan,” sê Anika.  “Posmeester – aan wie ons eintlik ons naam te danke het – is ’n unieke versnit van nege kultivars (Merlot, Cabernet franc, Petit Verdot, Cabernet Sauvignon, Malbec, Shiraz, Mourvèdre, Grenache en Viognier).“Dan is daar ook Swartskaap, die enigste enkelkultivarrooiwyn in die reeks wat uit suiwer Cabernet franc geskep is.”  Die Sauvignon blanc-wyne word as priemgetalle voorgestel Die Nr. 2, Nr. 3, Nr. 5 en Nr. 7. Die Nr. 2 is ’n Sauvignon blanc-edellaatoes wat net in uitsonderlike oesjare gemaak word.Hierdie skaars nommertjie kan tien jaar of langer verouder en word vanaf ’n enkele hektaar se wingerd geproduseer.
GOEIE AARDE!
Hermanuspietersfontein se wyne verteenwoordig die unieke terroir van die Sondagskloof, amptelik bekend as Suid Afrika se premium-koelklimaatwynproduksiestreek.  Sowat 10% van die plaas is onder die rentmeesterskap van CapeNature en fynbos gedy oral om en tussen die wingerde. Slakke is ’n redelike plaag in die wingerde. Pleks daarvan om hulle chemies te bestry, gebruik die plaas eende om slakke in hul duisende te vreet.  Trouens, die bestuur van die plaas, die uitwissing van indringerplante, soos port jackson-bome, en die omgewingsvriendelike manier van doen het aan die plaas reeds verskeie eerbewyse besorg, onder meer van die Biodiversiteitwyninisiatief (BWI).
“Ons het ’n BWI- goue status en is die eerste plaas in die Walkerbaai-omgewing wat dié topeerbewys as BWI-kampioen ontvang,” sê mnr. Lochner Bester, wynboukundige, wat saam met sy vrou, Ida, die wingerde, plaas en die gastekamers in outentieke plaashuise bedryf. “Ons glo goeie grond maak goeie wyn. Dié filosofie is vir ons volhoubaar en is die grondslag vir die maak van merkwaardige wyne,” sê Lochner, wat met groot trots die plaas, wingerde, fynbos, gastehuise en die troppie beeste en skape vir ons wys.  Die voorkeur vir versnitte bo enkelkultivarwyne bied volgens HPF 1855 se filosofie die geleentheid aan sy wynmakers om kreatiewer te wees. Die resultaat is ’n samevang van kultivars en wyne met ’n unieke karakter en smaakprofiel wat almal die Sondagskloof as gemeenskaplike faktor het. Die versnitte word uit ’n bank van druiwe van topgehalte gemaak. Hoewel in klein maat, lewer dié wingerde wêreldklaswyne wat eerbewyse insluit soos ’n vyfstertoekenning in die jaarlikse Platter-gids, verskeie SA Terroir-eerbewyse vir die kelder se merkwaardige Cabernet franc en ’n goue medalje in die 15de Berlynse Wyntrofeëkompetisie.
Die kultivars wat op Hermanuspietersfontein verbou word, is Sauvignon blanc (27,44 ha), Cabernet Sauvignon (11,23 ha), Shiraz (4,26 ha), Cabernet Franc (3,96 ha), Merlot (6,78 ha), Semillon (2,64 ha), Petit Verdot (1,02 ha), Viognier (0,93 ha), Malbec (2,01 ha), Nouvelle (1,04 ha), Grenache (0,53 ha) en Mourvèdre (0,51 ha). “Ons wit Cape Blend is ’n voorbeeld van die plaas se merkwaardige Sondagskloof-terroir: Sauvignon blanc vir vrugtigheid, houtverouderde Semillon vir struktuur en Nouvelle bied die groen varsheid van dié wyn,” verduidelik Anika.  “Swartskaap het so half per ongeluk gebeur toe dié 100% Cabernet franc-wyn oorspronklik gemaak is vir versnitdoeleindes.  Hoe meer aan hom geproe is, hoe beter het die wyn geword!” vertel me. Kim McFarlane, wynmaker by die kelder. Danksy ’n kombinasie van tyd, nuuskierigheid en terroir het die wynmakers dié enkelkultivarwyn uniek aan Sondagskloof geskep. Die besluit om af te wyk van HPF 1855 se versnitresep is geregverdig toe Swartskaap vir vier uit ses oesjare die SA Terroir-eerbewys as die beste Cabernet franc in die land ontvang het.

Foto & Storie deur Liza Bohlmann, Landbou Weekblad 31 Oktober 2014


more on hpf1855.co.za